100 jaar Afrikaans – en ons het dit in styl gevier!

Wat gebeur as jy Afrikaanse geesdrif, Nederlandse gasvryheid, en ’n bietjie kompetisie in een lokaal meng? Jy kry ’n onvergeetlike middag soos dié van Saterdag 10 Mei in Utrecht, waar die tema “100 Jaar Afrikaans” lewendig geword het tydens ’n feestelike kroegvasvra!

Die atmosfeer was aansteeklik toe agt spanne mekaar die stryd aangesê het oor alles van Afrikaanse idiome tot musieklegendes. Van jong studente tot ervare taalveterane en selfs enkele kaaskoppe het hul kraaie gekap in vier kleurvolle kategorieë: algemene kennis, film & TV, musiek en ‘100 Jaar Afrikaans / Bye Bye Nederlands’. Elke rondte het sy eie vonke gespat, maar dit was veral in die musiekrondte waar die saal begin sing het – letterlik! Toe Gé Korsten se “Liefling” oor die luidsprekers speel, het deelnemers hul harte oopgesing in ’n oomblik van ware Afrikaanse nostalgie.

Die vrae het nie net breins gekrap nie, maar ook lagspiere geprikkel. Die grootste skaterlag het gekom toe deelnemers moes antwoord: “Wat kry jy as jy in Nederland vra vir ’n lekker bakkie?” – ’n vraag wat die unieke taalverskille tussen Afrikaans en Nederlands op ’n humoristiese manier uitgelig het. Laat ons vir jou ‘n wenk gee: jy kry in elk geval geen dubbelkajuit Toyota Hilux nie.

Die kategorie ‘100 Jaar Afrikaans / Bye Bye Nederlands‘ was ‘n ware bloedbad. Vrae soos ‘Tot wanneer is Afrikaanse woorde in Nederlandse woordeboeke as ‘Suid-Afrikaanse Nederlands’ gelys?’ (Antwoord: 1961) het mense laat (ver)wonder. Maar ja, ‘n mens benodig uiteindelik ook jou moeilike vrae om die kaf van die koring skei.

Corine en Carmen het uiteindelik as wenners weggestap met ’n gesogte pakkie Hollandse streekprodukte, maar dit was duidelik: elke span het iets gewen – of dit nou nuwe vriende, heerlike herinneringe of net ’n goeie lag was.

Die Nederlandse Afrikanervereniging het gesorg vir kos en drankies – van geurige versnaperinge tot verfrissende drankies – wat almal nog lekkerder laat kuier het. Daar was ook tyd tussen rondtes om te gesels, netwerk en nuwe mense te ontmoet, presies wat die doel van die middag was: om pret te hê en saam te vier.

Met Afrikaanse trots en warmte wat ver buite Suid-Afrika se grense straal, het hierdie middag in Utrecht gewys dat taal nie net verbind nie – dit laat harte klop. Hierdie was nie net ’n vasvra nie – dit was ’n viering van kultuur, identiteit en gemeenskap.

Afrikaans leef. En ja – dit sing, lag en kuier saam – ook in Nederland!

You may also like these